Mediaverklaring
Die grondwet van Suid-Afrika beskerm die reg
tot vryheid van spraak. Daar is egter sekere beperkings op hierdie reg,
o.a. waar dit skadelik is vir kinders en waar dit onverdraagsaamheid
teenoor ‘n geloof openbaar.
Die BCVO is ‘n beheerliggaam vir
talle Christelike Afrikaanse skole reg oor die land. Die BCVO bied ‘n
geregistreerde matriekeksamen aan wat goedgekeur is deur UMALUSI en
aanvaar word deur al die universiteite in Suid-Afrika.
Op 4
Januarie 2012, tydens die 07:00 nuus, het die nuusleser van die
radiostasie Jacaranda 94,2 bekend gemaak die BCVO se matriekeksamen
het ‘n slaagsyfer behaal van 95% vir die 2011 eksamen, ander Privaat
skole so bietjie minder en dan die Staatskole wat sukkel om n 70%
slaagsyfer te behaal.
Net na die nuus maak die aanbieder Rian van Heerden die volgende aanmerking:
Sy woorde was in die lyn van: “Die regses, hulle het seker net 2 vrae om te antwoord.”
Een: “Wie is Hendrik French Verwoerd?” Antwoord: “Eerste Minister” - Reg
Twee: “Wie regeer die land? Antwoord: Die Kommuniste” - Reg - en as hul kommuniste reg spel kry jy n onderskeiding.
Uit bogenoemde wil dit voorkom of Mnr Rian van Heerden uiters
onverdraagsaam is teenoor Christelike skole en hulle as “regs”
klassifiseer. Sy aanmerking is ook uiters skadelik teenoor kinders. Nie
net die kinders wat in 2011 die BCVO se matriekeksamen geskryf het nie,
maar ook die derduisende kinders wat tans in Christelike Afrikaanse
skole is en in die toekoms die BCVO se matriekeksamen gaan skryf.
Dit is verstommend dat ‘n persoon wat onverdraagsaam is teenoor die
Christelike geloof en die Christelike lewenswyse, die platform van ‘n
radiostasie het om sy onverdraagsaamheid te propageer. Dit is verder
verstommend dat sy skadelike, neerhalende uitlatings teenoor kinders
toegelaat word.
‘n Klagte in die verband is by die uitsaai klagte kommissie van Suid-Afrika (BCCSA) ingedien.
Die uwe,
Ben Geldenhuys
President: Verkennersbeweging van Suid-Afrika