Gr.9-leerling erg beseer in beweerde aanranding
2010-09-22 00:37
Tom de Wet
WELKOM. – In nóg ’n voorval van skolegeweld in die Goudveld is ’n
gr.9-leerling van die Orionskool in Welkom so erg deur ’n medeleerling
aangerand dat hy ná die aanval bewusteloos op die grond bly lê het en
erge harsingskudding opgedoen het.
’n Video-opname van die bakleiery is deur ’n ander leerling met ’n selfoon gemaak.
Hierop
kan gesien word hoe Norman Fourie (16) geslaan word totdat hy op die
grond val, daar geskop word en dan weer geslaan word as hy opstaan.
Hy
probeer om homself verdedig.
Die slaner word hoorbaar deur ander
leerlinge aangepor, en aan die einde van die video kan gesien word hoe
’n ouer in sy motor sit en kyk sonder om te help.
Norman
het wel gisteroggend gaan eksamen skryf voordat sy ma, mev. Elsie
Fourie, hom na die polisiekantoor gebring het om ’n klag van aanranding
in te dien. Sy glo egter hy het nie baie goed gevaar nie.
“Hy
kan niks ná die aanranding onthou nie. Sy pa is al byna vier jaar dood,
maar hy kan dit nie onthou nie. Hy het Maandag, nadat hy ná die
aanranding sy bewussyn herwin het, gehuil en sy pa gesoek.”
Fourie
sê sy weet haar kind is nie die soetste kind in die skool nie, maar om
so aangerand te word terwyl personeel niks doen om dit te keer nie, is
onaanvaarbaar.
“Een van my seun se maats het my Maandag
gebel en gesê Norman is met ’n mes gesteek. Ek het dadelik na die skool
gejaag waar ek hom erg beseer en deurmekaar gekry het. Hy is
bewusteloos deur maats van die plek waar hy bly lê het, weggedra.
“Volgens
ooggetuies het die skoolhoof, mnr. Hennie Burger, gesien wat gebeur,
maar het dit nie gekeer nie. Volgens die ooggetuies het die ander seun,
wat in gr. 8 is maar glo reeds 18 jaar oud is, my seun aanhou vloek.
Norman het hom gevra om op te hou, waarna die aanranding plaasgevind
het.”
Sy sê daar was nooit voorheen wrywing waarvan sy weet tussen die twee seuns nie.
Sy
het hom by ’n dokter gehad, wat vasgestel het dat hy erge
harsingskudding opgedoen het.
Verder het hy ook ’n sny en krapmerke aan
sy rug, nek en elmboë. Volgens omstanders was daar ook ’n mes of ander
skerp voorwerp betrokke.
Sy is ’n werkende enkelma en moes hom gister by vriende los om sy toestand dop te hou. Hy het heeldag geslaap.
Mnr.
Coert Olivier, onderhoof, het gistermiddag by navraag gesê volgens hul
voorlopige ondersoek was daar ’n slanery oor en weer wat reeds op die
skoolterrein begin het, en toe buite die hek in die straat voortgesit
is. Dit het gebeur terwyl die leerlinge die skoolterrein verlaat het.
“Die aangeleentheid is egter nou in die polisie se hande.”
Klik hier om die oorspronklike berig te leesHier volg skermskote uit die video wat duidelik aantoon hoe een van die swart omstaanders ook na norman skop terwyl hy op die grond lê.