Die Beweging
het sy ontstaan gehad op 19 Oktober 1989 in die omgewing van Hekpoort. In 1990 het hierdie
klompie manne besluit, onder leiding van Steve Strydom, om die beweging
landswyd bekend te stel weens die talle navrae wat hul ontvang het. Om
dit te vermag het ons die hulp gesoek van verskeie ander instansies en
strukture om landswyd kontak te maak. Die Beweging het egter sy
amptelike beslag gekry op
9 Februarie 1991 tydens sy stigtingskongres te Welkom.
Die Verkenners is die enigste ware en suiwer
kultuurorganisasie waaraan die Boerevolk se mans kan deelneem. Ons dien
nie politieke partye nie en is nie aan hulle onderdanig nie. Ons streef
beslis na 'n eie Vaderland waarin ons vry kan wees om alles wat vir ons
dierbaar en kosbaar is instand te hou en uit te bou. 'n Vaderland waarin
ons ongehinderd God Drie-enig kan dien.
Hierdie beweging is gestig met die uitsluitlike
doel om diensbaar te wees aan ons Skepper, die Drie-enige God en om in
diens te staan van die Boerevolk.
Verder wil ons dit onomwonde stel dat hierdie
beweging nie geïnisieer of tot stand gebring is deur enige ander
organisasie nie. Ons is nie soos sommige persone wil beweer 'n front-organisasie
vir 'n ander organisasie nie. As daar mense is wat iets anders wil
beweer, dan is dit eenvoudig doelbewuste kwaadwilligheid.
Die gebeure in 1994 het die Volk uitmekaar geruk.
Ons mense is lamgelê. Ons kan nie genoeg byvoeglike naamwoorde vind om
die treurige toestand waarin ons volk verkeer, te beskryf nie. Dit wat
met ons mense gebeur het, het hulle oor hulle self gebring omdat hulle
op mense en nie op ons Skepper vertrou het nie. Ons volk het hul rug op
God gekeer en daarom het hy geval en is sy redding slegs daarin geleë
dat hy weer op sy knieë moet kom en die Lewende God moet dien. Juis in
hierdie tyd is duiwelse magte besig met 'n ongelooflike aanslag om die
volk waarvoor ons so lief is in sy geheel te vernietig. Die aanslag is
veral teen ons Godsdiens en kultuur, maar is hoofsaaklik toegespits op
ons jeug. Indien hulle daarin kan slaag om ons jeug van ons te vervreem
sal ons volk ophou om te bestaan. Ons glo werklik dat die Verkenners 'n
reuse aandeel kan hê in VOLKSBOU en VOLKSBEHOUD, maar slegs as
Christenvolk.
Ons as Verkenners wil onsself en ons beweging
aanbied as instrument in die hande van ons Hemelse Vader om gebruik te
word om ons volk weer 'n biddende volk te maak, en met alle middele tot
ons beskikking en deur sy genade hierdie bose magte teen te staan.
Ons volk is in nood! Ons jeug word
bedreig! Ons
besef dat ons slegs ons taak sal kan uitvoer as ons werklik in elke dorp
of omgewing Verkennersposte het. Daarom het ons die vrymoedigheid om
dokumentasie aan u deur te gee met die vriendelike versoek om ons by te
staan om in u omgewing 'n Verkennerspos tot stand te bring. Indien u nie
u weg oop sien om te help om 'n Pos te stig of persoonlik te inisieer
nie, identifiseer dan asseblief, indien moontlik, vir ons 'n persoon wat
bereid sal wees om ons hierin te help. Getalle is nie tersake nie. Daar
is poste wat slegs uit ses lede bestaan maar wat met groot vrug
funksioneer. Skaar u as individuele lid by ons.
Doelstellings
·
Die doelstellings van die beweging is daarin geleë, dat:
die Christelike leefwyse met sy waardes en norme in die gemeenskap
bevorder en beskerm sal word;
·
Hy hom sal beywer vir die handhawing en uitbouing van die
Boerevolk se taal, kultuur, leefwyse, tradisies en identiteit;
·
Hy die trots van volkskap by die Boerevolk sal uitbou.
·
Hy hom sal beywer vir die behoud van die Boerevolk se regte
en erfenis;
·
Hy Boerevolksbelange te alle tye en onvoorwaardelik in alles
wat reg en billik is, eerste sal stel;
·
Hy sal verken en as boodskapper sal uitdra, enige aspek wat
die Boerevolk raak en tot sy behoud sal dien;
·
Hy, sover dit in sy vermoë is, die Boeregemeenskap tot
diens sal wees.
Die amptelike en enigste taal van die beweging sal
Afrikaans wees.
Grondbeginsel
Die beweging berus op 'n Christelik
volkseie grondslag met erkenning van die oppergesag van die Drie enige God en
die gehoorsaamheid aan die Bybel, as die die onfeilbare Woord van God, wat vir
ons sal dien as enigste norm en rigsnoer.