Danie Theron, bedrewe en dapper krygsman,
baasverkenner, sterf op die slagveld en word een van Suid-Afrika se
grootste militêre helde.
“Danie Theron het aan die hoogste eise van ‘n krygsman beantwoord.”
Hierdie uitspraak kom van niemand anders nie as Christiaan de Wet,
sekerlik een van Suid_Afrika se beroemdste veldhere. Toe hy Theron se
doods berig ontvang, het De Wet gevoel dat sy plek nie maklik gevul sou
word nie. Daar sou wel beminlike en dapper manne soos Theron wees, het
De Wet gereken, maar waar sou hy ‘n man vind met soveel deugde in één
persoon verenig?
By sy dapperheid het hy groot krygslus besit, en
bowendien was hy ‘n krygsman met deursettingsvermoë. As hy ‘n bevel
gekry het, of self iets wou uitvoer, dan moes dit gedoen word, buig of
bars, het De Wet sy bewondering uitgespreek. Inderdaad het Suid-Afrika
in Daniel Johannes Stephanus Theron ‘n krygsman gehad wat in sy militêre
loopbaan van skaars ‘n jaar onsterflike roem verwerf het.
Hy is op 9
Mei 1872 op Tulbagh gebore. Hoewel hy verdraagsaam was, het hy ook ‘n
driftige, opgewonde temperament besit met ‘n dogmatiese “alles of
niks” – uitkyk op die lewe. Tereg verklaar sy biograaf, J.H.
Breytenbach, dat alles wat Danie Theron aangepak het, hy “deurgedruk
het met ‘n taaie volhardingsvermoë en ’n dryfkrag wat vir niks
gestuit het nie, wat ook al die gevolge vir homself mog wees”.
Ná sy
skooljare op Tulbagh, Bethlehem in die Vrystaat, Middelburg (Kaap),
Rouxville en Lady Grey (waar hy in 1888 die “School Higher
Examination” – sertifikaat in die eerste klas ontvang) bekwaam hy
hom aan die Normallkollege in Kaapstad as onderwyser. Skaars ses maande
staan Theron in die onderwys, in die distrik Kroonstad, alvorens hy hom
in Augustus 1891 na die Zoutpansberg-distrik in die aangrensende
Zuid-Afrikansche Republiek begewe. Ironies genoeg het twee aansoeke van
hom om ‘n betrekking in die staatsdiens van
Transvaal
nie geslaag nie.
Vroeg in 1893 word Theron as prokureursklerk ingeskryf
by die firma C.T. Rabie op Pietersburg, en verskyn sy naam vir die
eerste keer op die veldkornetslys. Op 10 Augustus 1896 verkry hy volle
burgerreg op grond van sy krygsdiens teen Mmalebôgô in 1894. Theron
gee vroeg reeds blyke dat hy vir groter diens bestem is. In Julie 1895
tree hy met die swart onluste in Noord-Transvaal op as rapportganger vir
kmdt.-genl. Piet Joubert. Dit is moontlik dat Joubert hierdie
voortreflikhede van Theron raakgesien het, want toe lg. hom later in
Pretoria vestig, woon hy ‘n tyd lank by Joubert aan huis. Aan die
einde van Desember 1895 bevind Theron hom toevallig in Pretoria, juis toe
Dr. L.S. Jameson sy inval in
Transvaal
uitvoer. Wanneer Ben Bouwer van kmdt.-genl. Joubert se kantoor gelas
word om ‘n boodskap van die Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika na
Jameson te neem tot die effek dat hy sy mag moet onttrek, word Bouwer
deur Danie Theron vergesel. Te perd lewer hulle die vrugtelose boodskap
af. Hoewel Theron skynbaar nie aan die geveg en gevolglike oorgawe van
Jameson deelgeneem het nie, benoem Joubert hom om die regeringskommissie
te help om ná die inval die wapens en ammunisie van die Uitlanders in
Johannesburg te konfiskeer. Hierdeur word die rus en orde in die
Goudstad herstel.
Vervolgens skryf Theron as prokureursklerk by die
firma Stegman en Esselen in Pretoria
in. In 1897 kwalifiseer hy as prokureur (hy presteer trouens die beste
van die kandidate) en open in dieselfde jaar ‘n praktyk op Krugersdorp.
Sy praktyk floreer spoedig. Ook ontmoet hy Hannie Neethling, ‘n
aanvallige en begaafde meisie van die plaas Eikenhof, tot wie hy hom
onmiddellik aangetrokke voel. Hulle raak verloof, maar op 29 Augustus
1898 sterf sy onverwags aan longontsteking. Omdat hy oor sy persoonlike
sake geslote was, kan
ons alleen op die getuienis van sy oorlogsmakkers steun dat haar dood
hom diep moes getref het.
In die diplomatieke stryd tussen Groot
Brittanje en
Transvaal
steun Danie Theron aanvanklik die meer gematigde benadering van Piet
Joubert bó dié van pres. Paul Kruger. Theron is van oordeel dat die
President oorlog kan
vermy deur toegewings aan die Uitlanders. Maar toe hy eers daarvan
oortuig raak dat die Britse regering doelbewus op oorlog afstuur, word
hy deur ‘n onversetlike strydlus oorweldig. Theron se afkeer van
Britse Uitlander-element wat oorlog aangestook het, bereik op
22 April 1899
breekpunt deur ‘n eensydige jingo-artikel in The Star. Met sy haastige
geaardheid reis Theron onmiddellik na Johannesburg
en eis van die redakteur, W.F. Monypenny, ‘n apologie. Monypenny weier
dit, waarop Theron hom ‘n vuishou op die oog toedien. Drie dae later
word Theron, wat sy eie verdediging waargeneem het, skuldig bevind aan
aanranding en tot ‘n boete van ₤20 of twee maande tronkstraf
gevonnis. Die boete word onmiddellik betaal deur die Afrikaners wat die
hofverrigtinge bygewoon het. Hierdie haastige en verbete optrede sou
Theron as krygsman goed te pas kom, maar dit in die wandel een van sy
swak eienskappe was, val nie te betwyfel nie.
Deur middel van
monstervergaderings in
Johannesburg, ‘n oorhaastig gereëlde vergadering in Junie 1899 te Paardekraal en
‘n Ope Brief aan Afrikaners in September 1899, poog Danie Theron
vervolgens om sy volksgenote op te wek vir die stryd wat volgens hom nou
onvermydelik is. Hy word ‘n gewilde figuur en vaderlandsliewende
burgers begin na hom as ‘n leier opsien. Theron se besorgdheid oor
‘n behoorlike inligtingsdiens vir
Transvaal
het hom finaal op die militêre pad geplaas. Ná vertoë aan kmd.-genl.
Joubert verkry hy verlof om die Wielrijders Rapportgangers Corps op te
rig. Hy sou self met die rang van kaptein aan die hoof daarvan staan.
Die rywiel of fiets het intussen sy waarde getoon, deurdat dit oor
langer afstande vinniger as ‘n perd was en moeiliker deur die vyhand
raakgesien (en gehoor) sou word. Ná ‘n suksesvolle werwingsveldtog
word die sowat honderd uitgesoekte lede van die korps op 14 September
1899 deur kmdt.-genl. Joubert ingesweer. Aan sy korps het Theron hul
taak uiteengesit:
Om
rapporte te vervoer veral waar geen telgraafverbindings bestaan nie, en
om deur middel van verkenning inligting in te win vir die leërleiding.
Kort hierna vertrek ses seksies van die korps per fiets in verskillende
rigtings om inligting te verkry oor die Britse militêre voorbereidings.
Theron besoek persoonlik
Kimberley, Mafeking
en
Bulawayo
waar hy byna vasgetrap word en met ‘n stukkende fiets deur die ruwe
boswêreld moet terug sukkel Pietersburg toe. Nieteenstaande ‘n
lofrede van Genl. Botha met die onthulling van ‘n monument op Theron
se graf in 1907, is dit te betwyfel of hierdie verkennnigstogte veel
bygedra het tot die Regering se kennis van Britse troepebewegings aan
die grense.
Op
28 September 1899
word die burgermagte van die twee Boererepublieke gemobiliseer. Twee dae
later vertrek Theron na die front. Die lede van sy korps word in verskillende kommando’s aan al die fronte ingedeel. Hy bevind hom
persoonlik met ‘n klein groepie van sy korps aan die Natalse front.
Twee dae nadat die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het, steek Theron op 13
Oktober 1899 saam met die burgermagte die Natalse grens oor. Hy en sy
korps beperk hulle nie slegs tot rapportry nie, maar neem ook aktief aan
die gevegte deel. Met die eerste groot slag in Natal, by Talana op 20 Oktober 1899, dra hulle by tot die gevangeneming van
sowat 250 Britse betrede soldate. In die gevegte rondom Ladysmith
onderskei Theron hom sodaning, dat Jimmy Roos, Reuter se verslaggewer,
op 3 November 1899 in ‘n perstelegram berig: “If Transvaal iron
cross for valour… were revived, the palm in Natal should be awarded to
D. Theron, chief of the Despatch riders…Every day his life depended on
goodwill of fate. He never questioned the danger when General Joubert
had any risky order to execute.”
Die dapper en gedissiplineerde wyse
waarop die lede van die korps hul pligte uitvoer, ontvang spoedig baie
lof, selfs van burgers wat aanvanklik skepties teenoor die groep gestaan
het. Theron neem op 15 November 1899 onder genl. Louis Botha deel aan
die verowering van die gepantserde trein naby Chieveley waartydens onder
meer die oorlogskorrespondent Winston Churchill krygsgevange geneem
word. Hy teken telgrafies sterk trots by die Regering aan toe gerugte
die ronde doen dat Churchill vrygelaat gaan word. As staflid van genl.
Louis Botha onderskei Danie heron hom tydens die hewige slae van Colenso
(15 Desember 1899) en Spioenkop (24 Januarie 1900). Later sou Botha van
hom sê: “Hy was as soldaat gehoorsaam en trou, as offisier
onverskrokke en bekwaam, as krygsman ‘n held. Nooit het ek iemand
ontmoet wat meer deurtastend te werk gegaan het, wat opgewekter ‘n
moeilike taak volbring het nie, hetsy as leier, as spioen, of as
aanvoerder by ‘n aanval. Die woord ‘nee’ het Theron nooit geken
nie. Wat aan hom opgedra is, het hy gedoen.
Transvaal
het geen dapperder man opgelewer nie.”
Ook doen hy, meestal te perd,
waardevolle verkenningswerk vir Joubert. Met sy waarde as verkenner bewys,
gee Botha ná Colenso vir Theron opdrag om ‘n verkenningskorps op die
been te bring. Ná ‘n suksesvolle begin in Natal, kry Theron verlof om
die Vrystaat en die Kaapkolonie te besoek ten einde dergelike korpse
daar op te rig. So bevind Danie Theron hom op 22 Februarie 1900 in Genl. Christiaan de Wet se
leer by Poplar Grove aan die wesfront. Hier
sou hy seker sy grootste roem as krygsman behaal. Sake het donker gelyk
aan die wesfront. By Paardeberg op die noordelike oewer van die
Modderrivier was genl. A.P Cronjé met meer as 4000 gedemoraliseerde
voetgangers deur lord Roberts se magte vasgekeer. Vir sy ontset het
Cronjé afhanklik geword van Genl. De Wet suid van die Modderrivier. De
Wet was van oordeel dat Cronjé na die suidelike oewer van die
Modderrivier moes durgaan en van daar met behulp van dekking deur De Wet
se magte ‘n pad oopbreek na die ooste. Op een of ander skynbaar
onmoontlike wyse moes De Wet hierdie boodskap by Cronjé kry. Die
problem was dat hulle in hierdie stadium geen heliografiese of
telegrafiese verbinding met mekaar kon kry nie. Tussen hulle het ‘n
stewig geslote Britse kordon enige kommunikasie onmoontlik gemaak. Danie
Theron se reputasie van dapperheid en onverskrokkenheid het hom
waarskynlik vooruitgegaan. Dit is daarom nie vreemd dat De Wet besluit
het om hom te nader met die versoek om die rapport mondelings aan Cronjé
deur te neem nie. Sonder huiwering kom Theron se antwoord: “Ja,
Generaal, ek sal gaan!” Ten einde die donker as bondgenoot te gebruik
en nog die omgewing te verken, het Theron reeds die middag van 24
Februarie 1900 De Wet se laer per fiets verlaat. Twee van sy
rapportgangers vergesel hom ‘n ent. Dan neem hy afskeid en gaan alleen
te voet óm Koedesrand aan die noordekant van die Modderriveir verder.
Met donker kon hy die rye Britse kampvure voor hom sien wat die terrein
tussen die breë linies verlig. Hy sou moes wikkel, want die maan sou
gedurende die na nag opkom en dan moes hy al deur die vyandelike linies
wees. Voetjie vir voetjie vorder Theron, totdat hy naderhand vlak teen
die eerste Britse wagposte is. Die eerste linies bied geen probleme nie,
maar namate hy al dieper die vyandelike gebied binnedring, is die
wagposte al nader aan mekaar. Op pakkende wyse het Theron later vertel:
“My hande en knieë was rooi van die blare, want dit was stukkend
gekrap van die dorings en skerp klippe, waardeur ek honderde tree ver
moes kruip. Ek het ‘n rukkie tussen die groot klippe gaan lê, om te
rus en te oordink wat ek sou doen, want ek was toe só na aan die
Engelse brandwagte, dat ek hulle duidelik op en neer kon sien loop,
dwarsoor die koers wat ek moes gaan.” Geweer oor die skouer marsjeer
die wagte na mekaar toe, maak 'n regsomkeer waar hulle ontmoet, en loop
dan weer in teenoorgestelde rigtings, tot waar hulle weer die volgende
wagte aan weerskante tref, en so duur dit voort. Theron het sy gaping
gesien. Toe twee wagte mekaar die rug keer, spring hy vorentoe en sis
die een toe: “Hey Jack, don’t move, keep quiet or I’ll shoot you
dead.” Die wag aarsel vir ‘n oomblik en draai na die indringer. Maar
toe hy sien dat die Boer sy rewolwer op hom rig en hy nog ‘n bevel kry
om aan te stap asof niks gebeur het nie, gehoorsaam hy vinnig. Soos
blits glip Danie Theron deur in die rigting van die beleërde Boerelaer.
In die wal van die Modderrivier tref Theron Cronjé se laer in haglike
omstandighede aan. In die reëndeurweekte, modderige slote is daar geen
sanitêre geriewe nie. ‘n Onhoudbare stank hang oor die laer, verwek
deur die ontbindende karkasse van die talle perde en trekvee wat deur
die vyandelike bomme gedood is. Baie hiervan lê in die enigste
drinkwaer waaroor die burgers beskik. Die bietjie beskikbare kos is
galbitter van die liddietgas van bomme wat aanhoudend oor die laer bars.
Die oorblywende sowat honderd perde is uitgeput en glad nie rybaar nie.
Onder hierdie omstandighede heers ‘n gees van volslae moedeloosheid
oor die meer as 4000 burgers. Theron het die boodskap van De Wet aan
Cronjé afgelewer, en dié het dit voor sy krygsraad gelé, maar die
offisiere het nie
kans
gesien om ná al die ontberings deur ‘n afkomende rivier te gaan en
self ‘n pad deur die vyand te slaan nie. Tevergeefs het Cronjé
ook nog sy burgers gelas om ‘n kettingbrug oor die rivier te bou. Nadat
hy gedurende die dag ‘n klein ruskanise gekry het, pak Theron daardie
aand die terugtog deur die Britse linies aan, oortuig daarvan dat die lot
van die bleërde Boeremag verseël is. Met dieselfde behoedsaamheid
as die vorige nag, maar sonder voorval, kom hy die oggend van 26
Februarie in De Wet se laer aan. Sy broek is aan flarde en sy knieë
rooi van die bloed waar die klippe en bossies en dorings die vel
afgeskaaf het. Theron se optrede, wat volgens De Wet ongeëwenaard was
in die oorlog, het nie die besette krygsmag gered nie. Die offisiere en
burgers was te gedemoraliseer om De Wet se veeleisende krygsplan deur te
voer, en die offisiere het Cronjé gedwing om op 27 Februarie 1900 met
sy mag van meer as 4000 man oor te gee. Bykans vyftig jaar later oordeel
J.H. Breytenbach dat Theron “onteenseglik die bewys gelewer het dat hy die
knapste rapportganger in die geledere van die burgerkrygsmagte was”.
Dit is moeilik om te bepaal of die kruiptog werklik die hoë lof verdien,
aangesien ons nie presies weet hoe dig die Britse linies werklik tussen
24 en 26 Februarie 1900 was nie. Ongetwyfeld het lord Roberts die
knyptang stywer getrek nadat Kmdt. Stoffel Froneman op 20 Februarie met
twintig man te perd van Cronjé af na De Wet deurgejaag het. Vir Theron
was dit ná sy kruiptog die ideale oomblik om die eintlike doel van sy
tog vanaf
Natal
deur te voer, en ‘n goed georganiseerde verkenningskorps op die been
te bring.Met die steun van A.D.W. Wolmarans,
lid van die Transvaalse Uitvoerende Raad, wat op daardie tydstip in De
Wet se laer aanwesig was, kry Theron op 3 Maart 1900 amptelike
goedkeuring van die regerings van albei Republieke hiervoor.
Met die
rang van kapein en die mag om persoonlik offisiere aan te stel of te
ontslaan, spring Theron aan die werk om die TVK – Theron se
Verkenningskorps – op te rig. By die keuring van sy manne uit die
verskillende kommando’s stel hy hoë eise, en onderwerp hy hulle aan
toetse in die veld. Spoedig kry hy ‘n keurkorps van so wat 100 lede om
hom versamel, manne op wie hy te alle tye kon staatmaak en wat deur
liefde jeens hul leier en trou aan die republikeinse saak aan Theron
gebonde was. Die lede van die korps is onder drie luitenante, Barnie
Enslin, Jan Theron en J. Pretorius, ingedeel. Dit was nie so maklik om
die TVK met die nodige toe te rus nie, aangesien die Republieke reeds in
hierdie stadium gebrek ondervind het. Theron laat geen steen onaangeroer
nie, en geleidelik word van die voorrade-probleme uitgeskakel soos tente,
bokseile, komberse, draadknippers, hoewe, ens. Perdevoer en
uitstekene perde was maar skaars. Aan die begin van Junie 1900 bewillig
die Transvaalse Uitvoerende Raad ₤1500 vir die TVK vir verdere
voorsiening. Theron wend hierdie kontantbedrag nuttig aan om op die
plase en beskikbare winkels die nodige aankope te maak. Só goed sorg hy
vir sy korps se voedselbehoeftes dat hy al gou die bynaam “Kaptein
Dikeet” kry.
Intussen het die Wielrijders Rapportgangers Corps steeds
bly voorbestaan, maar op 2 Mei 1900 dra Theron die administrasie hiervan
aan Koos Jooste oor. Voortaan sou hy hom daaroop toespits om die TVK uit
te bou om die oë en ore van die Boeremagte te word. Deur in noue
voeling met die Britse troepebewegings te bly, verskaf die TVK met
Theron aan die spits belangrike inligting aan die Boereleërleiding
aangaande Roberts se opmars na Bloemfontein . Dit dra daartoe by dat die
Boeremagte sonder swaar verlies kan terugtrek. Wanneer De Wet op 7 Maart
1900 by Poplar Grove aangeval word en die burgers, gedemoraliseer deur
Cronjé se oorgawe, onwillig is om staande te bly, is dit Theron en lede
van sy korps wat verhoed dat die Boerekanonne in Britse hande val. Met
die burgers se terugvlug ná Abrahamskraal gelas De Wet Theron om met sy
TVK agter te bly en hom op die hoogte van Roberts se bewegings te hou.
Vir die eerste keer vorm die TVK die agterhoede vir De Wet – ‘n rol
wat hulle in die komende maande gereeld op onmisbare wyse vir Botha en
De Wet sou vervul. Theron se onverskrokkenheid het hom blykbaar na
willekeur tot binne die vyandelike kampe gebring. Hier het hy in die
kakie-uniform van ‘n Britse offisier en met sy goeie beheer van Engels
inligting ingewin sonder om enigsins agterdog te wek. Daar word voorts
vertel dat van sy verkenners ook die Britse kampe binnegedring het,
vermom as gewone Britse soldate of as boere wat kwansuis produkte kom
verkwansel het.
Kort voor die Britse inname van Bloemfontein op 13 Maart
1900 red Theron en sy korps nog waardevolle voorradewaens vir die
Boeremagte. In die nag van 18 en 19 Maart verniel hy by Glen vir die
eerste keer ‘n treinspoor deur die treinbrug die lug in te blaas ten
einde die Britse opmars te vertraag. Wanneer die Transvaalse magte
gedurende Mei 1900 na hul vaderland terugval, voeg Theron hom met die
TVK by waarnemende Kmdt.-genl. Louis Botha. Met hul agterhoede-operasies
raak hulle gereeld in klein skermutselinge met die oprukkende Britse
kolonies slaags. Die gedagte ontstaan nou om die TVK te vergroot en dit
naas ‘n verkenningskorps in ‘n vegkorps te reorganiseer. Vir hierdie
doel trek die TVK ná die Britse besetting van Pretoria op 5 Junie 1900
terug na Middelburg. Die gereorganiseerde TVK bevat sowat 200 lede,
waarvan die meerderheid nuwelinge uit die kommando’s en vrywilliger
eenhede is. Die polisie van Johannesburg en Pretoria beslaan ‘n groot
gedeelte daarvan. Buitelandse vrywilligers, soos Hollanders, Duitsers,
Russe, ‘n Ier, ‘n Griek, ‘n Turk en ‘n Arabier, maak sowat ‘n
kwart van die getal uit. By die luitenante is onder meer bygevoeg S.G. (Manie)
Maritz, Mears en ‘n Rus genaamd Strolman. Die onhoudbare situasie
bestaan dat ‘n gedeelte van die korps vanweë die perdeskaarste te
voet moet gaan of met een van die drie trollies vervoer word. Theron
slaag spoedig daarin om met persoonlike kontak en individuele
belangstelling sy korps tot ‘n hegte eenheid saam te voeg. Weldra
aanbid almal hul “Kappie”, soos hy met deernis deur hulle genoem
word.
Sy besielende voorbeeld in die daaglikse kommandolewe en tydens
kontak met die vyand spoor almal aan tot getroue pligsbesef, flinkheid,
oplettendheid en aanvaarding van dissipline. Dissipline word verbeter
deurdat Theron alle individuele buitmakery ten strengste verbied. Onder
sy leiding word daar gesorg vir hul daaglikse behoeftes. Op versoek van
Pres. M.T. Steyn en De Wet keer Theron teen middel Junie 1900 met sy
“nuwe” TVK na die Vrystaat terug. Hulle sluit by Asst.-Hoofkmdt.
Piet de Wet aan wat ‘n Britse mag onder Genl.-Maj A.H. Paget by
Lindley omsingel het. Met sy deurdrukker-geaardheid probeer Theron
tevergeefs om die beleëraars tot aksie aan te spoor. Wanneer die
Vrystaters onder Christiaan de Wet verplig word om op Bethlehem terug te
val, lewer die TVK weer waardevolle werk in die agterhoede-gevegte. Op
onverskrokke wyse red Theron persoonlik van sy vasgekeerde makers. Met
De Wet se verdediging van Bethlehem op 6 en 7 Julie 1900 speel die TVK
‘n vername rol. Op die tweede dag moet hulle veral die spit afbyt en
weer eens dek hulle die Boere-aftog. Dan sluit hulle by die Vrystaatse
mag aan wat in die hoefystervormige Brandwaterkom, suid van Bethlehem,
saamgetrek het. Buite Retiefsnet op die pad na Bethlehem vorm die TVK
die wag. Ten einde te verhoed dat die groot Britse mag onder Lt.-Genl.
A. Hunter die Boere in ‘n kordon toeknoop, besluit die Boerekrygsraad
om in verskillende rigtings uit die Brandwaterkom te trek. Die
trekrigting van die eerste afdeling word deur Slabbertsnek
noordweswaarts na die omgewing van Vredefort en Kroonstad bepaal. Dit
sou uit 2000 man van die kommando’s uit die noordelike distrikte onder
aanvoering van Christiaan de Wet staan – wat intussen as
Hoofkommandant aangesel is – terwyl Pres. M.T. Steyn en die Vrystaatse
regering hulle sou vergesel.
Vir verkenningsdoeleindes beskik hierdie
afdeling oor die dienste van Kapt. Theron en sy 200 TVK-lede en Kapt.
Gideon Scheepers met sy dertigtal verkenners. Op 15 Julie 1900 verlaat
De Wet se afdeling die Brandwaterkom deur Slabbertsnek. Dit is Theron en
sy TVK wat die agterhoede vorm. Tydens die trek bly die TVK gereeld as
wag agter vir die wegtrekkende waens en kommando’s, maar ‘n aantal
verkenners staan ook Gideon Scheepers se korps op die voorhoede by. Genl.
Hunter het spoedig verneem van die ontsnapping van die Boeremag en ‘n
agtervolging deur berede infanterie onder Brig.-Genls. R.G. Broadwood en
C.P. Ridley gelas. Dit sou as die eerste dryfjag op De Wet bekend staan,
en talle Britse kolonies sou hulle daarby voeg. Vroeg die oggend van 19
Julie trek De Wet met 500 burgers in ‘n suidwestelike rigting uit om
die aanrukkende berede brigade van Lt.-Kol. M.O. Little aan te val. Hy
laat die boerelaer en die res van die mag onder bevel van sy broer,
Asst.-Hoofkmdt. Piet de Wet. Dit geluk Broadwood die middag om die
Boerelaer onder Piet de Wet vanuit die suidooste te verras, en die Boere
word verplig om in ‘n noordwestelike rigting die hasepad te kies.
Vanweë sy besondere ondervinding van agterhoedegevegte neem Danie
Therhon die taak op hom om die Boereaftog met sy TVK en ander vrywillige
burgers te dek. Ten einde die naderende oormag te flous, kom Theron met
sy beproefde taktiek vorendag: Deur sy korps in groepis van twaalf man
elk uit te stuur om sowat 750 meter van mekaar stelling in te neem, wek
dit die indruk dat ‘n uitgebreide vegslinie van meer as 10 km die
Boerelaer beskerm. Sodoende word ‘n Britse flankaanval van die
Boerelaer onmoontlik gemaak, aangesien die Britte hulle oral teen die
skakels van die gevoelige ketting vasloop. Dit stuur die aanvalsplanne
van die vyand in die war omdat hulle nie met juistheid die sterkte van
die TVK op ‘n gegewe punt kan bepaal nie. ‘n Tipiese agterhoedegeveg
ontstaan met Broadwood waarin die Boere-agter-hoede elke tree van hul
gang terugballend betwis. Tot drie maal toe neem die VK terugtrekkend
stelling in totdat die ondergang van die son tot hul redding kom. Die
Boerelaer was veilig. Ten einde die nagtelike aftog van die
Boereagterhoede te dek, bly Theron voorlopig met ‘n dertigtal
verkenners agter. Dit is nou De Wet se voorneme om die
Bloemfontein-Pretoria-Spoorlyn oor te steek, maar dit sou ‘n
gevaarlike onderneming wees. Die TVK-lid Wynand Malan, wat later general
sou word, word met ‘n paar verkenners vooruit gestuur om ‘n geskikte
oorgang vir die walaer te soek. Die grootste gedeelte van die TVK dek
egter oudergewoonte die agterhoede as die Boeremag die spoorlyn die aand
van 21 Julie 1900 nader. ‘n Rukkie nadat die TVK vanaf die agterhoede
by die Bethlehem-kommando op die linkerflank, suid van Serfonteinhalte,
aangtesluit het, maak ‘n trein vanuit die suide sy verskyning en
sukkel teen die lang opdraand uit. Plotseling kom die trein tot
stilstand deurdat een van die TVK-lede op die trein gespring en die
rubberbuis van die outomatiese lugrem ontkoppel het. Die geveg wat met
die insittende Welsh Fusiliers onstaan, is van korte duur en spoedig gee
die Walliesers oor. Agt-en-negentig word krygsgevange geneem, terwyl
vier gewond word. ‘n Burger van die Bethlehem-kommando sneuwel.
Benewens ammunisie-voorrade is die
trein swaar gelaai met voedselvoorrade vir die front. Die TVK en die
burgers van Bethlehem benut die geleentheid ten volle om in hul eie
behoeftes te voorsien. Aangesien die waens reeds te ver vooruit is, kan
De Wet, wat intussen bygekom het, nie die kosbare ammunisie vervoer nie.
Gevolglik laat hy die vier gewonde Walliesers in ‘n spoorwa eenkant
plaas en steek die res van die trein aan die brand. Vervolgens kry hy en
Theron die burgers bymekaar en haal die Boerelaer in. Om nege-uur die
volgende oggend (22 Julie 1900) laat De Wet sy mag byeenkom. Met Theron
langs hom op ‘n wa prys hy die TVK en hul leier vir hul dapper optrede
met die treinbuitery. Hy maak bekend dat die krygsraad besluit het om
Kapt. Theron tot Kommandant te bevorder. Die benoeming beteken dat die
TVK in die toekoms een stuk grofgeskut mag beheer. Die uitbundigheid van
die TVK na dié aankondiging ken geen perke nie.Theron bedank vir die
eer wat hom bewys is en gee sy blydskap te kenne oor die nuwe sukses.
Nou het hulle weer genoeg Engelse tabak, tee en koffie, suiker en melk.
Hy gaan vort: “Daar is mense wat sê: “Theron se mense is net ‘n
klomp buitmakers.” Dit is wel waar. Ons neem graag as ons iets kan kry,
maar daarom is ons dan altyd voor!” Hy sluit sy kort toesprakie af deur
hard uit te roep “De Wet!”, wat stormagtige byval vind. Sy manskappe
dra hom op hul skouers weg onder uitroepe van: “Lewe Kommandant Theron!”
Só verknog is die lede van die TVK aan hul leier. Terwyl De Wet met sy
mag suid van die Vaalrivier in die heuwels naby Vredefort vertoef, doen
die geleentheid hom nou voor om die Britse spoorwegkommunikasie te
verniel. Hierdie taak word aan Kmdt. Theron en sy TVK opgedra.
Hoewel die teenwoordigheid van die Britse troepemag onder Lord
Methuen verhoed dat die TVK en die Transvaalse westergrens-burgers onder
Genl. Piet Liebenberg direk saamwerk, slaag albei groepe tog daarin om
die Britse spoorlyn doeltreffend te saboteer. Die aand van 26 Julie 1900
verlaat die TVK De Wet se laer en maak Renosterkop, noord van Kroonstad,
hul basis. Hiervandaan maak hulle gereeld aanslae op die spoorlyn. Die
grootste slag wat Theron met ‘n gedeelte van die TVK die Britte in
hierdie tyd sou toedien, geskied die nag van 2 en 3 Augustus 1900, 30 km
suid van Kroonstad en ‘n paar kilometer suid van Holfonteinhalte. Om
Twintig oor een in die oggend van 3 Augustus kom ‘n trein met Britse
soldate vanuit die suide aangestoom. Waar die TVK die spoorstawe verlê
het, tref die lokomotief die geplante dinamietpatrone. Van die
ontploffing slaan die voorste twee waens om en die trein knars tot
stilstand. Verskeie eise tot oorgawe deur Theron, gevolg deur sarsies
Mauserskote, laat die Britse soldate hulpeloos oorgee. Vier van hulle
het met die onsporing die lewe verlaat, terwyl nog twee en die masjinis
en ‘n personeellid van J.S. Stowe, Konsul-Generaal van die VSA, in die
skietery gewond is. Stowe was op uitnodiging van Roberts vir ‘n besoek
na Pretoria
onderweg.
Vervolgens haak die TVK Stowe se salonwa af en stoot hom ‘n
ent terug sodat die gewondes deur Stowe se arts verpleeg
kan word. Theron laat die soldate vry, maar neem die vier
Luitenante gevange.
Nadat die VK ‘n groot hoeveelheid buit, waaronder tien possakke,
verwyder het, word die trein aan die brand gesteek. Ongeveer twintig
voor vier die oggend verlaat die TVK die toneel en kies noordwaarts
koers. Stowe het later verklaar dat Theron “with all possible
courtesy” teenoor hom en sy geselskap opgetree het. Daar het nogtans
‘n voorval plaasgevind wat ‘n storm van Boere-protes ontlok het. Dit
het om die persoon van Kol. A. Gordon Lennox gedraai wat hom met
dokumente van sier Alfred Milner in Kaapstad vir Lord Roberts op die
trein bevind het. Theron het Gordon Lennox met rus gelaat, maar drie dae
later het De Wet heftig beswaar by Roberts gemaak, aangesien alle
omstandighede en verklarings van die TVK, en veral die getuienis van die
vier krygsgevange Luitenante, daarop gedui het dat Stowe sy
neutralitiet geskend het. Op ‘n vraag van Theron het hy, onder
voertoning van sy nasionale vlag en op sy erewoord as Konsul-Generaal
van die VSA, verklaar dat daar in die salonwa geen engelse persoon of
dokument of enigeiets vervoer word wat nie aan sy staf of aan hom
persoonlik behoort nie.
Heel waarskynlik het Gordon Lennox met die dokumente van Milner aan
Roberts in sy besit, deel uitgemaak van Stowe se geselskap, en hom
teenoor Theron as personeellid voorgedoen of laat voordoen. Die
treinbuitery het ook ‘n heftige protes van Lord Roberts aan Kmdt.-Genl.
Louis Botha ontlok. Roberts het die treinbuitery beskou as “acts of
brigands, not of war”. Intussen het die Britse patrollies by
Holfonteinwagpos en Ventersburgwegstasie Theron en sy groepie TVK-lede
nie met rus gelaat nie. Spoedig het hulle ‘n vasberade agtervolging op
tou gesit. Vroeg die oggend van 3 Augustus ná ‘n jaagtog van sowat
vyftien km, het hulle die TVK ingehaal. In ‘n kort maar bloedige
agterhoedegeveg op ‘n feitlik oopvlakte, is volgens Britse opgawe drie
TVK-lede gedood, agt tot tien man gewond en een krygsgevange geneem. Of
die Britse opgawe korrek is, is moeilik bepaalbaar, aangesien daar aan
Boerekant onvoldoende gegewens bestaan. Die Britte het hulle verliese op
slegs een man gewond gestel en agt perde dood. Die afloop van Theron se
agterhoedegevegte. Een van die agtervolgers, Kapt. Pine-Coffin, beskryf:
“We followed them again for some distance when they broke up into
three parties and my horses being done up I returned home.”
Kmdt.
Theron het waarskynlik op 5 Augustus 1900 met sy hele korps in De Wet se
laer aan die Vaalrivier teruggekeer. Hiermee het die eerste fase van De
Wet se oogmerke, om die Britse spoorwegkommunikasie te verniel,
suksesvol verloop. Terwyl die westergrens-burgers van die ZAR die
Potchefstroom-Krugersdorplyn verniel het, het die TVK die Bloemfontein-Pretoriaspoorlyn
byna daagliks ontwrig. Ook die tweede fase, nl. Opkommandering en
heropkommandering, was suksesvol, en meer as 500 burgers het hulle in
die twee weke sedert die trek uit die Brandwaterkom by De Wet se mag
aangesluit. Intussen het Roberts ‘n kordon rondom De Wet se mag aan
die Vaalrivier begin trek. Metjuen het egter nagelaat om in die ooste
die net styf toe te maak, en De Wet sodoende ‘n ontsnappingskans na
die ZAR te bied. Die oggend van 7 Augustus 1900, die dag nadat De Wet
met sy voorhoede die vaalrivier by Schoemandsdrif oorgesteek het, het Methuen
die Boeremag by Tygerfontein vanuit die noordweste verras. Die meeste
van die Boerekommanmdo’s was nog suid van die Vaalrivier. Terwyl die
Boere op ‘n gallop in ‘n noordoostelike rigting al op die noordelike
oewer van die Vaalrivier voortjaag, bestook die Britte hulle van die
heuwels aan hul linkerkant af met kleingeweer- en artillerievuur. Terwyl
hulle so die spitsroede loop, keer ‘n Artillerie-Offisier vir Danie
Theron met ‘n veertigtal van sy verkenners voor. Hy deel hulle mee dat
De Wet vlugtend is maar dat sy twee bommaxims en ‘n pom-pom nog bo-op
die heuwelreeks staan en dat hy hulle nie daar kan afkry nie.
Met
die Boeregeskuts in gevaar roep Theron onmiddellik: “TVK!”, en
gevolg deur sy veertig man, storm hy die heuwel uit. Bo gekom, onstaan
‘n hewige kleingeweergeveg met die Britte wat die heuwel van die ander
kant bestyg het. Dit is met die grootste moeite dat die TVK die kanonne
herower. Dan begin die probleem om hulle daar af te kry, aangesien hulle
van die ander kant opgekom het en ‘n ruie kloof aan die duskant die
taak bemoeilik. Een van die TVK-lede, Henri Slegtkamp, vertel: “Na
langdurige inspanning gelukte het ons de beide maxims (en de pom-pom)den
berg afte krijgen, waarop onmiddelijk de paarden die klaar ingetuigd
stonden, warden voorgespannen en voort ging het in een wilde galop.”
Eers ná sononder kon al die burgers in Van Vuurenskloof, weg van die
Vaalrivier, afsaal. Methuen se doel op hierdie dag was om De Wet se
roete aan die voorkant af te sny, en hy het byna daarin geslaag. Waar
het De Wet gefouteer? Dit wil voorkom asof hy die vorige aand vir Theron
en ‘n deel van die TVK verder terug naby Schoemandsdrif geplaas het
ten einde as agterhoede te dien vir die kommando’s wat reeds deur die
Vaalrivier was indien Methuen ‘n aanval op die drif sou maak. Die res
van die TVK sou blykbaar as agterhoede dien vir die burgers wat nog suid
van die Vaalrivier was. Methuen se aanval op Tygerfontein verder noord
het die TVK dus uit posisie betrap. Of Theron se verkenners enigsins in
staat was om De Wet betyds te kon waarsku, is nie met die beskikbare
gegewens uit te maak nie. Belangrik is dit dat daar op 8 Augustus 1900
krygsraad gehou is en dat Danie Theron daarvoor verskyn het omdat “sy
spioene nie in tyd die laër gewaarsku het van die vyand nie”.
Waarskynlik kan ons hierdie bewering van burger Dirk de Witt, wat sy
inligting later van Kmdt. A. de Kock van Frankfort gekry het, aanvaar.
Hy beweer voorts dat Theron die skuld op homself geneem het en dat De
Wet daarna meer op Gideon Scheepers staatgemaak het.
Die volgende dag,
op 9 Augustus 1900, verras Methuen egter weer eens die Boeremag, deurdat
Scheepers en ses van sy manskappe met ‘n Britse patrollie van dertig
man slaags geraak het en De Wet nie betyds kon waarsku nie. Theron en sy
korps dek oudergewoonte die aftog van De Wet wat dieper die ZAR
binnegedwing word. Met Kitchener en Methuen op sy hakke, Smith-Dorrien wat
hom naby Bankstasie inwag en Ian Hamilton verder noord, beleef De Wet
nou ‘n moeilike tydjie. Steeds dien die TVK op die agterhoede om te
verhoed dat die Boeremag oorval word. De Wet swenk in ‘n
noordwestelike rigting om Smith-Dorrien te ontduik, en die aand van 10
Augusstus 1900 steek die Boeremag die Potchefstroom-Krugersdorpspoorlyn
5 km suidwes van Welverdiendstasie oor. Theron kry op die agterhoede
opdrag om die spoorlyn die lug in te blaas, en hy doen dit op agt
verskillende plekke. Teen dagbreek die oggend van 11 Augustus voeg Genl.
Liebenberg hom met sy Kommando noord van Frederikstadstasie by De Wet se
mag. Steeds duur die eindelose trek voort. Die oggend van 12 Augustus
1900 besluit Theron om met sy korps weg te draai. Onthef van hul
verpligtinge teenoor die hoofmag sal die TVK die spanning van die
volgehoue agtervolging kan afskud en hul moeë perde die nodige rus gee.
Sedert die trek uit die Brandwaterkom het die TVK steeds die
vermoeiendste en gevaarlikste werk verrig en hul leier het waarskynlik
gereken dat De Wet vorentoe, met Liebenberg as geleide, die knoop sonder
hul dienste kon deurhaak. De Wet was nie tevrede met die besluit van
Theron nie. Dit wil voorkom asof daar onenigheid tussen die twee manne
was wat waarskynlik gespruit het uit die krygsraad van 8 Augustus, toe
Theron moes verskyn omdat sy verkenners De Wet na bewering nie betyds
teen Methuen se verrassingsaanval gewaarsku het nie. Hoe ook al, Pres.
Steyn het Theron se besluit om van die hoofmag te skei, teenoor De Wet
verdedig en geoordeel dat sy keurkorps die vyand deur afsonderlike
optrede meer skade sou berokken. Met sy TVK het Theron vervolgens
ooswaarts uitgewyk na Mooiriviersoog, ‘n beskutte, bosryke plek. Iets
meer as tien dae rus die korps voordat Theron met ‘n aantal
waaghalsige strooptogte vorendag kom. Maar eers doen hy aan op Eikenhof,
die plaas van die Neethlings, en versoek hulle om op Hannie se
sterfdatum,
29 Augustus, namens hom ‘n krans op haar graf te lê.
Met tien man
gaan hy die dorpie Roodepoort binne. Dit was waarskynlik die aand van 22
Augustus 1900. By die stasie buit hulle ‘n aantal possakke, en Henri
Slegtkamp plaas dinamiet onder die spoorlyn. Nie ver daarvandaan nie, by
‘n konsertuitvoering waar ‘n aantal Britse soldate en plaaslike
dames jolig te kere gaan, loer die verkenners in, net toe die eerste
ontploffings by die stasie dit uitbulder. Komiese vertellings oor die
afloop van die petalje word onder meer gevind in die opgetekende
herinneringe van Wynand Malan, Henri Slegtkamp en Jack Hindon. Sonder
moeite het die groepie Boere uit Roodepoort ontsnap. Dit moes die aand
van 23 Augustus 1900 gewees het dat Hoof Kmdt. De Wet op sy terugtog na
die Vrystaat op Jan Wolvaardt se plaas, Elandsfontein, vir Theron
opgesoek het. Hier aan die Gatsrand was dit die laaste keer dat De Wet
Theron lewend gesien het. Dit was asof hulle die geleentheid gekry het
om tot versoening te kom ná die ongelukkigheid van elf dae tevore. Die
volgende dag, 24 Augustus 1900, het De Wet Theron per boodskapper gelas
om daardie aand by Van Vuurenskloof aan die Vaalrivier by hom aan te
sluit. Dit was De Wet se oogmerk om die Britse spoor- en
telegraafverbindings te verniel. Hierdie bevel is terloops twaalf dae
later deur die Britte aan Danie Theron se lyk gevind. Theron het De Wet
egter verwittig dat sy krygsraad eenparig besluit het dat die TVK met
hul swak perde en met twintig man reeds voetgangers, nie aan De Wet se
versoek kan voldoen nie. Bowendien het hulle reeds ‘n plan in die mou
gehad om 69 gevangenes in die Kliprivertronk te gaan bevry. Dit was
inderdaad nou Theron se strategie om burgers wat reeds die wapen neergelê
het, weer op te kommandeer. Diegene wat traag was om te gehoorsaam is
met die sambok aangemoedig.
Die aand van 26 Augustus 1900 voer Theron
die bestorming van die Klipriviergevangenis uit. ‘n Klompie manne
spring oor die muur, oorrompel die niksvermoedende Britse wagte en breek
die seldeure met ysterstawe en klippe oop. Die meeste van die 69
vrygelatenes is Afrikaners wat reeds die eed van neutraliteit afgelê
het. ‘n Hele aantal van hulle word spoedig in Boeregeledere opgeneem.
Sommige dros gou weer, terwyl die gewone misdadigers uit die staanspoor
hul eie koers kry. Met sy rustelose ywer ontsê Theron homself die
nodige rus. Siek en met ‘n swaar verkoue doen hy twee aanvalle op die
Johannesburgse waterwerke, wat albei egter misluk. Op 31 Augustus 1900
buit hy sy laaste trein.
Die onderneming begin eintlik as ‘n
uitdagende versoek van die Hollandselede van die korps om darem ‘n
ietsie te hê om Koningin Wilhelmina se verjaardag op 31 Augustus te
vier. Met sowat veertig vrywilligers vertrek Theron die aand van die
30ste in die rigting van Kliprivierstasie. Teen elfuur bereik hulle die
spoorlyn, skroef ‘n spoorstaaf los en sit ook ‘n paar dinamietskote
onder die lyn. Om drie-uur die oggend skeur die breek van staal en hout
die naglug soos die trein die spoorstawe voor hom wegploeg.
Kleingeweervuur vanuit die donker sorg spoedig dat die sowat dertig
Britse troepe oorgee. ‘n Paar dinamietskote wat in die lokomotief
gestel word, beeindig sy werkskof vir goed. Met ‘n groot buit aan
klere, gewere en ammunisie, kos en drank, vertrek die opgeruimde
TVK-lede in ‘n overgeetlike viering van Koninginnedag. Waar hulle
vervolgens afsaal, waarsku ‘n Britsgesinde hensopper die vyand.
Tevergeefs probeer twee Britse offisiere Theron vastrek, en die einde
van die saak is dat die TVK eenvoudig die hensopper se huis afbrand.
Die
poging die nag van 2 en 3 September 1900 om naby Heidelberg ‘n trein
op die Natalspoorlyn te buit, misluk omdat hulle te laat by die spoor
opdaag. Vervolgens keer Theron terug na Elandsfontein in die Gatsrand,
die plaas van Rooi Piet Pienaar, waar die res van die TVK onder Danie
Theron se neef, Luit. Jan Theron, op hulle wag. Dit is duidelik dat daar
in Danie se afwesigheid met die nuwe rekrute ‘n gebrek aan goeie
leiding was. Blykbaar is Theron se doel nou om na Genl. Louis Botha in
Oos-Transvaal te gaan, waar hy sy korps so goed moontlik wil toerus vir
‘n inval in die Kaapkolonie. Waarskynlik het hy reeds ‘n
verstandhouding met die ZAR-regering hieroor gehad, want met sy dood het
die Regering reeds bepaal dat Theron as veggeneraal aangestel word.
Nadat Genl. Piet Liebenberg by Welverdiendstasie voelers na hom
uitgesteek het, ry Danie Theron en Wynand Malan daarheen. Liebenberg wil
hê sy burgers en die TVK moet ‘n gesamentlike aanval op Genl.-Maj.
A.F Hart se kolonie doen, wat van Krugersdorp na Potchefstroom op pad
is. Vroeg die oggend van 5 September 1900 sal hulle die kolonie
gesamentlik aanval, Liebenberg reg van voor van die rant af wat voor Jan
Wolvaardt se postal op Elandsfontrein verbyloop, en Theron van die rant
af direk suid daarvan, vanaf Pienaar se plaas, ook Elandsfontein. Op die
afgesproke uur op Woensdagoggend, 5 September 1900 , is Liebenberg nie
in die stelling waar Theron hom verwag het nie. Daar kon geen miverstand
gewees het oor die stellings wat die twee Boere-afdelings moes inneem
nie. Die TVK het geruime tyd al daar vertoef, Liebenberg self was ‘n
Potchefstromer en dus bekend met die terrein, en bowendien was Wolvaardt
se plaas ‘n bekende poskoetshalte.
Wat wel opoenbarend is, is dat
Liebenmberg skaars ‘n week tevore Genl. De la Rey in die steek gelaat
het toe lg. op 31 Augustus 1900 naby Kommissiedrif ‘n hewige geveg met
Lt.-Kol. E.H. Dalgety se Colonial Division op Slypsteenkoppie gehad het.
Betekenisvol het De la Rey se militêre sekretaris nog op 3 September
die landdros op Rustenburg verwittig: “Jammer maar dat Generaal
Liebenberg zoo maar weer pad gegeven heft zonder om te vechte.” Nou,
vyf dae later, was daar weer geen teken van Liebenberg nie, en Hart se
kolonie was reeds sigbaar in die ooste. Teen agtuur neem Theron se
ongeduldige temperament oor. Oudergewoonte doen hy die verkenning self.
Hy versoek Wynand Malan om saam te gaan om vas te stel waarop Liebenberg
nie op die aanrukkende vyand losbrand nie. Malan is ongeneë, en Theron
neem manskap Nel met hom saam. Teen die rant suis van Wolvaardt se
postal en suid van die pad waarlangs die Britse kolonne moet verbykom,
klim die twee Boere uit. Aangesien Theron graag op sy eie
verkenningswerk doen, stuur hy Nel met hulle perde terug na die voet van
die rant, en gaan alleen verder. Meteens bars hewige kleingeweervuur bo-op
die koppie los. Dit is ‘n groepie van sewe Britte van die Marshall’s Horse en Danie Theron wat op mekaar afgekom het. Die verrassing aan
beide kante was seker groot. Theron neem onder ‘n boom in ‘n
klipkraal stelling in. Hy skiet vinnig en drie Britte sneuwel op die
plek, terwyl hy die ander vier verwond. Blykbaar het hy nou besluit om
aan te hou skiet om die vyand onder die indruk te bring dat die koppie
deur ‘n groot Boeremag beset is. Onmiddellik bring Hart sy ses
veldkanonne en 4.7 duim-skeepskanon in aksie. ‘n Britse bron vertel
dat ‘n tinktinkie nie uit daardie bombardement op die koppie sou kon
ontsnap nie: “The shrapnel kept up an almost incessant hail, covering
the wooded sides of the kopje with jets of round white balls of smoke,
while every now and then the deeper note of the 4.7 was followed by a
huge cloud of dust and yellowish vapour thrown up, and off, by the
explosion of the lyddite in the huge projectile.” En toe het een van
daardie bomme sy doelwit gevind, en Theron se Mauser het stil geword.
Waarskynlik het dit nie ‘n klip langs Theron getref en hom sodoende
gedood, soos tradisie dit het nie, maar was dit ‘n liddietgranaat uit
die 4.7 wat hom direk getref het. Sers. Olivier van die Marshall’s
Horse het in ‘n lykskouing getuig: “He had been killed by a Lyddite
shell, and half his face blown away.” Konstabel W.R.H Lucas van die
Potchefstroomse polisie het getuig: “The face was very much disfigured
by a piece of shell, the right half being blown away and the rest
discoloured by the powder.” Lucas, wat hom van sien geken het, was
feitlik seker dat dit Danie Theron was. Die lyk is na Wolvaardt se
postal geneem, waar die vroue hom uitgeken het. Die volgende dag het die
Britte hom en die drie gesneuwelde troepe by hul kampplek begrawe.
Intussen het die res van die TVK teen die middag onrustig begin raak
omdat hul leier nie terugkeer nie. Twee man word uitgestuur om te gaan
soek, en hulle kom met ‘n onrusbarende berig terug: Nel is gesien
terwyl hy met Theron se perd aan sy hand wegjaag, maar van hul geliefde
Kappie was daar geen teken nie. Blykbaar nog dieselfde aand het hulle
die skokkende tyding van sy dood by die Wolvaardts verneem. Vir die TVK
was dit ‘n baie swaar slag.
Uiteindelik vind sy makers sy graf. Met
eerbied grawe hulle hom op. Aan ‘n uitgesproke wens van hom om op
Eikenhof langs Hannie Neethling begrawe te word, kan hulle nie nou
voldoen nie, en tydelik vind hy sy rusplek in die familiebegraafplaas
van die Pienaars op Elandsfontein. As ek neem M.M. Pienaar die
klaaglied van Dawid oor Saul, II Samuel 1: 19 -27. Vers 19: “Die
sieraad, o Israel op jou hoogtes lê dit verslaan. Hoe het die helde
geval!” Hoewel Luit. Jan Theron in sy neef se plek as leier van die
TVK verkies is, het dit nie lank geduur voor die korps verbrokkel het
nie. Sommige het by ander korpse aangesluit, andere het weer hul eie
korpse opgerig. Dinge sou nooit weer dieselfde wees sonder hul Kappie
nie. Skaars ‘n jaar ná die oorlog, op 10 Maart 1903, is Danie Theron
se wens vervul toe sy makkers hom op Eikenhof langs Hannie Neethling
herbegrawe het. Op 21 Desember 1907 het die onthulling van ‘n
eenvoudige gedenksteen op sy graf plaasgevind. Presies vyftig jaar na
sy dood, op 5 September 1950, is die Danie Theron Monument onthul ‘n
paar tree van die boom waaronder hy gesterf het. Dit is maklik sigbaar
van die Johannesburg-Potchefstroompad en is bykans 25 meter hoog. Die
bopunt is van koper en in die vorm van ‘n vlam, as simbool van
vryheidsvlam wat in die siel van Theron gebrand het. Dit is onvermydelik
dat ‘n man wat so geleef en gesterf het, onsterflike roem verwerf het.
Die TVK was in liefde aan hul leier gebind met ‘n opregte en warme
toegeneentheid.
Danie Theron het geleef vir die Boeresaak en
dissipline
afgedwing deur sy vermheid en strenge regverdigheid. Waar hy gegaan het,
het sy voorbeeld besielend gewerk en onder hom het hy manne gevorm wat
van ons bekwaamste en dapperste offisiere sou word, manne soos Wynand
Malan en Manie Maritz. Daar is dikwels al gesê dat Danie Theron die oë
en ore van Hoofkmdt. De Wet was. Dit was hy beslis, maar ook vir Genl.
Louis Botha het hy waardevolle werk gelewer. In die guerrilla-oorlogvoering
het hy tot sy volle reg gekom, waar inisiatief, durf, vinnige denke,
volharding en mobiliteit vereis word. Hieroor het hy in oormaat beskik.
Danie Theron staan stewig in die geledere van beroemde Suid-Afrikaanse
krygsmanne, al was hy nie deel van die hoogste bevelstruktuur van die
republikeinse magte nie. Miskien het dit hom juis beskerm teen enige
foute wat hy kon gemaak het. Dit het hom in elk geval nie verhinder om
deel te hê aan die vorming van die breë strategie nie, soos sy
stigting van die Wielrijders Rapportgangers Korps en Theron se
Verkenningskorps getuig. Hy het die geleenthede wat na sy kant gekom of
wat hy self geskep het, met albei hande aangegryp. Met reg kan daar
gevra word watter rol hierdie merkwaardige man sou gespeel het in die
res van die oorlog en in die Suid-Afrikaanse politiek daarna, indien hy
nie aan die Gatsrand gesneuwel het nie.
Ten slotte, blykie van watter
bevrediging navorsing kan bring. In Desember 1972 het skrywer ‘n
onderhoud gevoer met die agt-en-tagtigjarige mev. Mara Malherbe, dogter
van Rooi Piet Pienaar, op die plaas Elandsfontein aan die Gatsrand. Sy
het vertel hoe dat Danie Theron die oggend by hulle postal aangegaan het
vanwaar hy sy dood tegemoet gery het. Net voor hy sy perd bestyg het,
het Mara se ouer suster aan Theron se lapel ‘ n roset van die
Vierkleur vasgesteek. Mara onthou hoe teleurgesteld sy was, want sý wou
dit doen. En toe, in Junie 1974 vind skrywer in die Public Record Office
in Londen ‘n reeks dokumente getiteld “Evidence rebody of man
killed at Wolvaardt’s farm Elandsfontein.” Daar lees ons die
getuienis van manskap C.S. Myers van die Marshall’s Horse: “I was
present when the body of the man said to be Theron was found…There was
‘n rosette on his coat with combination Transvaal-OVS colours… Later
in the day I was at a farm asking for information of the enemy when a
girl there told me they had passed there but one was missing which the
commando told her was Theron of Krugersdorp…I then showed her the
rosette which she at once identified as Theron’s.”
Fransjohan Pretorius
Beroemde Suid-Afrikaanse Krygsmanne